Groei en Ontwikkeling

Tuisblad

Inhoudsopgawe Voorwoord Groeteboodskappe Aanloop Stigting
  Streke Toekomsperspektief Fotobeeld Bylae  

 

Groei en Ontwikkeling

Toe die ses en twintig stigterslede van die Boeremusiekgilde op 9 Oktober 1989 te Pioniershuis in Silverton, Pretoria, hulle handtekeninge op papier plaas, was dit nie net 'n aanduiding van die aantal belangstellendes by dié vergadering nie. Hierdie mense en ander wat die groot fees bygewoon en geniet het, het die behoefte aan die bevordering van Boeremusiek in al sy vorme en onder alle omstandighede vertolk.

Niemand wat Boeremusiek liefhet, én Boeremusiek speel, moet buite gelaat word nie! Dit is 'n volksbesit wat binne verskillende gemeenskappe verskillend gekoester word én ook verskillende stadia van ontwikkeling toon. Die aanhangers en liefhebbers van Boeremusiek vertolk ook die verskeidenheid melodieë en ritmes op 'n wyse wat binne hulle smaak val, hoewel almal ewe ernstig is oor die essensie van hierdie kosbare volksbesit. Dit moet Boeremusiek bly! Of die melodie by wyse van enkelnootjies op die konsertina aangebied word of by wyse van vol akkoorde, of daar uit of in op die konsertina geskommel word, of die musiek rukkerig of vloeiend gespeel word — dit moet Boeremusiek bly!

So het die grondleggers van die Boeremusiekgilde in 1989 en vroeër al gedink en so dink hulle vandag nog. Die ontwikkelde én ontwikkelende musikante lewer almal 'n bydrae om Boeremusiek te bevorder en moet die volle geleentheid gegun word om dit te doen.

9 Oktober 1989 was dus 'n groot dag in die geskiedenis van Boeremusiek. Naas die program van die gevestigde Tradisionele Boeremusiekklub het die Boeremusiekgilde met sy eie program, toegespits op 'n wyer belangstel-lingswêreld, begin. Dit was dan ook die oorwoë mening dat daar ruimte vir almal is, ook vir twee Boeremusiekorganisasies, elkeen met sy eie aksent.

Die grondwet van die Gilde spel sy oogmerke duidelik uit: "Die Gilde is 'n nie-politieke kultuurorganisasie wat ten doel het die behoud, bevordering en uitbouing van tradisionele Boeremusiek, eietydse Boeremusiek én inheemse ligte Afrikaanse musiek in die ritmiese idioom”

Wat meer is, is die Gildse se ontvanklikheid vir instansies met "dieselfde oogmerke en doelstellinge" en die gewilligheid om diesulkes as geaffilieerde organisasies te akkommodeer.

Die Gilde is van die begin af gestruktureer met die oog op die mees doelmatige bevordering van Boeremusiek. Vir sy eie gerief, en die nodige kontrole en ander meganismes wat nodig is vir die bereiking van doelstellinge, maak die Gilde se grondwet voorsiening vir 'n hoofbestuur, dagbestuur, administratiewe bestuur en streeksbesture.

Die streke, soos dit by stigting aangedui, respekteer hoofsaaklik die geografiese samestelling van die land se provinsies in dié tyd en die populêre onderverdeling soos dit byvoorbeeld in die destydse sportwêreld voorgekom het. Die eerste Gildestreke is gevolglik: Westelike-Provinsie, Oostelike-Provinsie, Natal, Oranje-Vrystaat, Wes-Transvaal, Witwatersrand, Noord-Transvaal, Verre Noord-Transvaal én Vaalharts.

41-tilllie.jpg (119372 bytes)

Tillie du Plessis, dogter van Nico van Rensburg, saam met Gerhardt Olckers in 1994

Die eerste nuusbriewe aan die sogenaamde klubs van voor Oktober 1989, kom uit die pen van Tillie du Plessis van Eldoraigne in Verwoerdburg. Vanaf Maandag, 21 Augustus 1989, het die te stigte Boeremusiekgilde 'n "per-manente" kantoor en is die vaste posadres Posbus 21262, Valhalla 0137, en die telefoonnommer (012) 64-5036. Die "klubs" het toe ook al besture wat in 'n omsendbrief, gedateer 28 Augustus 1989, bekendgemaak word.

En die streke toe ter sprake, soos ons reeds weet: Noord-Transvaal, Wit-watersrand, Wes-Kaap, Oos-Kaap en Sentraal-Wes. Dit was die formele benamings van die streke op daardie stadium. Sentraal-Wes het die Vrystaat, Wes-Transvaal en Noord-Kaap (Vaalharts) ingesluit.

Die voorsitter van hierdie klubs het toe reeds "outomaties" in die hoof-bestuur van die te stigte Gilde gedien, soos die omsendbrief dit stel. Dit  is maar die embriostadium van die Boeremusiekgilde en tog lê die pad vorentoe vir hom redelik duidelik. Hy weet in 1989 reeds wat hy beoog.

Die administratiewe masjinerie was in 1989 reeds aan die werk. Daar is ook werkskomitees aangestel om die verskillende werksterreine te verken en natuurlik ook uitgesien na borge vir die nuusbrief uit die hoofkantoor én die groot fees van Oktober 1989. Borge is maar altyd 'n toevlug ook vir die Boeremusiekgilde, hoewel ledegeld 'n groot deel van dié begroting uitmaak.

En wat musiekpromosies betref, kom die Gilde in 1989 navore met die eerste langspeelplaat en kasset. En die geëerde musikant is die voortreflike Fanie Bosch, toe reeds oorlede, maar bekend vir sy styl en bevordering van goeie Boeremusiek. Fanie Bosch is steeds 'n gewilde konsertinaspeler.

Die groot dag in 1989 is, afgesien van die stigtingsvergadering, natuurlik 10 Oktober, 'n openbare vakansiedag in Suid-Afrika bekend as Heldedag. Vroeër het die dag bekend gestaan as Krugerdag. Dit gaan om die verering van een van die groot Suid-Afrikaanse helde, naamlik President Paul Kruger, die laaste president van die Transvaalse Republiek.

Hierdie dag word 'n besondere kultuurdag vir die Afrikanervolk en daarom benut die Gilde dit van die begin af vir sy nasionale Boeremusiekfees. Nico van Rensburg stel met die oog op dié dag 'n pakkende nuusberig vir die media vry. Boereorkeste skerp hulleself op vir dié dag; talle werkers woel vir dié dag se verskillende stalletjies; en belangstellendes staan eintlik tou by die Pioniershuis se hekke. Weldra was die terrein gevul met die lekkerste Boeremusiek.

Briefhoofde dra die eerste embleem van die Gilde, hoewel informeel, maar die simboliek is duidelik: musiek voer die botoon! Die kompetisiereëls vir die orkeste is ook duidelik. Waaraan die beoordelaars op dié dag aandag gegee het, is die musikale vaardigheid, konstruksie van 'n komposisie en sy aanbieding, intonasie, samespel en algemene voorkoms. Die afdelings vir die kompetisie is bloot junior en senior en die pryse vir die juniorafdeling R1 000 vir die wenner en R500 vir die naaswenner. Die wenorkes ontvang die Nico van Rensburgwisseltrofee.

42jakkie-ackerman.jpg (277713 bytes)

Rooihuiskraal, Oktober 1994; Corrie Nortje (tweede van links) ontvang die Fanie Boschtrofee van Jakkie Ackerman, 'n suster van Fanie; Nico van Rensburg en Ollie Viljoen staan by

By die seniorafdeling is die wenprys R3 000 én die Fanie Bosch-wisseltrofee, geskenk deur Rosie Erasmus, Fanie se suster. Die naaswenner ontvang R2 000. Die eerste beoordelaars is Nico van Rensburg, Neels Mattheus en Manie Bodenstein. Op hierdie stadium was daar nog nie beoordeling op grond van 'n spesifieke styl nie, daarom is daar ook nie pryse in die verband toegeken nie en is bloot gepraat van junior- en seniororkeste. Die juniororkeste was almal hoërskoolorkeste en hulle was van Pretoria, Verwoerdburg en Kemptonpark. Die seniors was van Kaapstad, Port ELizabeth, Pretoria, Johannesburg, Klerksdorp en Bloemfontein.

Die stigtingsnaweek, 9 en 10 Oktober 1989, verloop dus baie suksesvol en dien as 'n inspirasie vir die toekoms. Die eerste Dagbestuursvergadering — 18 Oktober 1989 — in die FAK se kantoor in Johannesburg is onder leiding van Ollie Viljoen, die nasionale voorsitter, en getuig van dankbaarheid oor die feesnaweek by Pioniershuis in Silverton. Verskeie sake kry by dié vergadering aandag o.m. die verhouding met Landboukultuur en die nasionale fees van 1990. Dit blyk verder dat van die vroegste borge vir die Gilde instansies soos Dikholo, Uitkykvleismark en Melody's was.

Formele Gildevergaderinge word van die begin af met gebed geopen en gesluit. Daarin is nog altyd gebid om die seën van die Here én om die behoud ook van die Afrikaner se kultuurskatte. Bowenal dank die bidder die Here vir sovele genade op die pad van die Christelike Kerk in Suider-Afrika ook in sy doodgewone pligte en ontspanning.

Die Here is die eintlike beskutting van sy mense, maar om groter status aan die Gilde te gee en by die grondwet te hou, wys die Dagbestuur op 9 Januarie 1990 by sy vergadering in Verwoerdburg — eintlik sy tweede vergadering — die Minister van Binnelandse Sake, meneer Eugene Louw, as beskermheer aan. Ander wat oorweeg word, is die direkteur van die SAUK, die FAK, die besturende direkteur van SAMRO en die sakeman Louis Luyt.

Daarbenewens geniet die bemarking van Boeremusiek deur die media ook intensiewe aandag én natuurlik 'n gepaste embleem wat die Gilde en sy doelstellinge moet beklemtoon. Dit moet veral as 'n simbool prominent in kleredrag en korrespondensie vertoon.

Die eerste formele nuusbrief uit die Gilde se hoofkantoor, gedateer 1 7 Januarie 1990, dra die hoofletter B as 'n embleem, hoewel dit toe nog nie amptelik goedgekeur is nie. Die B het as onderskrif die woord: BOEREMUSIEKGILDE. Dié nuusbrief, opgestel deur Ollie Viljoen, benadruk die eerste duidelike tekens van ontwikkeling binne die Boeremusiekgilde landwyd. Streke se programme word bekend gemaak én die prestasies!

Om streke aan te moedig, bied Ollie Viljoen sedert 1990 'n wisseltrofee vir die streek aan wat in die loop van die jaar die beste presteer. En vir musikante wat wil presteer, bied die konsertinameesters, Nic Potgieter en Nico van Rensburg kursusse in konsertinaspel aan.

Na die stigtingsvergadering in 1989 en die organisering van streke in 1990, is die Dagbestuur Ollie Viljoen (voorsitter), Nico van Rensburg (hoof uitvoerende beampte), Flip du Plooy (lid FAK), Neels Mattheus, Willie Fourie, Theo Erasmus en Tillie du Plessis (sekretaris). Die streke is toe soos volg:

Noord-Transvaal, Witwatersrand, Oostelike-Provinsie, Westelike Provinsie, Natal, Verre Noord-Transvaal, Wes-Transvaal en Vrystaat. Van die streke is verwag om elke kwartaal 'n funksie te hou, terwyl Hoofkantoor twee funksies moes hou: 1 Mei en 10 Oktober.

Streke moes Boereorkeste op die been bring én uitdunne reël vir die nasionale kompetisies van die Gilde in Pretoria. Om genoeg Boeremusiek te voorsien, bemark die Gilde in 1990 'n kasset met die titel GILDE GELEENTHEID. Ander kasette en langspeelplate wat sedert 1990 deur die Gilde bemark word, is van Piet van Heerden, Neels Mattheus, Fanie Bosch, Theo Erasmus en Jannie Breedt. Hierdie lys sou in die loop van 1989 tot 1994 aansienlik uitbrei. In dié vyf "goue" jare produseer Gildelede en Gildeorkeste baie Boeremusiek deur middel van plate, kassette en in jonger jare kompakte laserskywe (CD's).

Dit is duidelik dat orkeste of orkeslede wat by die Gilde betrokke is ook goed op TV presteer. Die leiers van die orkeste wat byvoorbeeld in 1990 aan die TV-kompetisie vir Boereorkeste deelneem, is omtrent almal Gildelede of –onder-steuners. Hulle is Neels Ackermann, Fanie Botha, Willie Botha, Dirk Fourie, Allan Green, Jannie Jacobs, Dirk Laas, Pat Malony, Neels Mattheus, Corrie Nortjé, Pietman Potgieter, Faan Rousseau, Frans Steinhobel, dr. Barney van Dyk, Nico van Rensburg en Eddie Wilkinson.

Die Gilde betrek 'n verskeidenheid van goeie musikante wat in die eerste vyf jaar van dié organisasie se bestaan op verskeie vlakke — ook nasionaal — presteer. Daar kan slegs maar na enkele gevalle verwys word. So is manne vir die OKTV-platetoekennings genomineer en Ollie Viljoen in 1990 vir die vyfde keer vir 'n Artestoekenning a.g.v. sy TV-programme genomineer. Hy is twee keer vir die TV-toekenning, "Star Tonight", genomineer. In die loop van 1990 — die eerste Gildejaar — is ernstig gewerk aan 'n goeie fondament vir die Gilde. Daarom word meneer Hendrik Sloet, hoofleier van die FAK, uiteindelik genooi om die beskermheer te wees. Die Gilde is by die FAK geaffilieer en hét nouer bande met die FAK as met regeringsinstansies. Trouens, as nie-politieke organisasie was die Gilde se oorweging van 'n Kabinetsminister nie in lyn met sy beleid nie.

Verder was die betrokkenheid van die Gilde by Leeupoort Bosveldvakansies ook ter bevordering van Boeremusiek. Dié vakansieoord reël byvoorbeeld vir 31 Mei 1990 'n Boeremusiekkompetisie waaraan verskeie orkeste deelneem. Ook die S.A. Lugmagbasis hou in daardie jaar so 'n kompetisie en begeer om die Gilde te betrek. In dié jaar skenk die Gilde R750 vir 'n toekenning tydens die SAUK se tradisionele Boereorkeskompetisie. As sodanig is dit reeds 'n vroeë bewys van die Gilde se ideaal om ook tradisionele Boeremusiek te bevorder.

Boeremusiek in al sy vorme is op die Gilde se program en oral word gesoek na die geleentheid om dit te bevorder. Die geleenthede word duidelik geïdentifiseer en goed benut. Hy doen dit in waardigheid as 'n trotse Boeremusiekorganisasie wat in 1990 besluit op 'n goudkleurige embleem, 'n musieknoot, op voorstel van Annetjie van Rensburg. Dit beteken dat die amptelike kleur goud is. Dit word dus 'n opvallende goud teen die swart agtergrond van die mansbaadjie byvoorbeeld.

"Boeremusiek in al sy vorme". Dit is die leuse, daarom slaag die Gilde in 1991 daarin om 'n gleuf op Radio Suid-Afrika te bekom vir die program Boeremusiek 2000. Dit was vir Saterdagoggende om 11:30 en het 'n meer moderne klank aan Boeremusiek gegee.

Ook vir Donderdagoggende is daar 'n radioprogram beding — alles in die Boeremusiekidioom. Ook dié onderhandelinge vir 1991 slaag al is dit net vir 'n kort programmetjie. Boeremusiek is op die lug.

Intussen word daar teen die einde van 1990 verneem dat meneer Gideon Roos van SAMRO bereid is om as beskermheer van die Gilde op te tree.

43-lewenslid.jpg (71241 bytes)

44-verdienste.jpg (74791 bytes)

45-aanprysing.jpg (68743 bytes)

Die Gilde se verskillende sertifikate van erkenning

Dit beteken ook erkenning vir Gideon Roos. Toe hy nie kon nie, is dit Paul Roos. Die Gilde verleen allerlei vorms van erkenning aan die ondersteuners van Boeremusiek. Vandaar die besluit in September 1990 op aandrang van Willie Fourie om oorkondes en sertifikate aan diegene te oorhandig.
Dit gebeur in die eerste plek met die lewenslange lede d.w.s. ondersteuners wat R500 of meer vir die Gilde bydra, maar ook met ander. In 1990 byvoorbeeld word Johan Botha van die Noord-Transvaalstreek vir sy besondere bydrae vereer.

Die Gilde toon reeds in sy eerste bestaansjaar dat daar 'n behoefte aan so 'n organisasie was. Dit was dus met groot dankbaarheid dat die Gilde sy tweede nasionale fees in Oktober 1990 kon hou. Die jaarvergadering in Pioniershuis, Silverton, vind in groot opgewondenheid plaas en alle streke is verteenwoordig, behalwe Natal en Wes-Transvaal. Statistiek toon dat die ledetal in die loop van 1989 en 1990 tot amper een duisend geklim het.

Op daardie stadium was Suid-Afrika in agt Boeremusiekstreke verdeel, te wete Verre Noord-Transvaal, Noord-Transvaal, Witwatersrand, Wes-TransvaaL Vrystaat, Natal, Oostelike-Provinsie en Westelike-Provinsie. Suid-Kaap, 'n te stigte streek, het toe dertien lede gehad, terwyl Namibië een lid gehad het. In die jonger tyd word toenemend gedink aan die stigting van 'n streek in Namibië.

Finansieel was daar wel rede vir kommer, maar ook vir dankbaarheid veral oor die O.P. en die Vrystaat. Die Vrystaat se inbetalings by Hoofkantoor in die jaar Oktober 1989 tot September 1990 kom neer op omtrent R11 per lid. Ledegeld was toe R20 per jaar en verder moes streke 10% van hulle inkomste uit funksies vir administratiewe doeleindes aan Hoofkantoor betaal. Hoofkantoor is toe flink beman deur Nico van Rensburg en sy vrou Annetjie, sowel as hulle dogter Tillie du Plessis, sekretaris van die Hoofbestuur én Dagbestuur. Daarvoor ontvang hierdie driemanskap dank en waardering.

46-maloney.jpg (155238 bytes)

Pat Malony en Annetjie van Rensburg (in die middel) by Kloofendal se fees in 1994

Die Gilde se kulturele huishouding toon van die begin af die besondere verhouding met Leeupoort Vakansieoord byvoorbeeld. Dit benadruk ook die feit dat daar reeds vroeg in 1991 al laer- en hoërskole op die gebied van Boeremusiek met mekaar meegeding het. In dié verband is die groot Boeremusiekfees in Februarie 1991 te Leeupoort 'n voorloper van wat later by die Gilde se nasionale fees sou plaasvind. By Leeupoort tree orkeste van verskillende skole én senior Boereorkeste op: Nico van Rensburg, Pierre Retief, Bergsig Boereorkes, Theo Erasmus en Ollie Viljoen.

Die verhouding met die Suid-Afrikaanse Akkordeon Assosiasie (SAAA) geniet ook aandag en die Gilde is bereid om dit uit te bou solank die eindproduk Boeremusiek is. Verder lewer ds. Lourens Aucamp 'n pleidooi vir skakeling met AKPOL, die Afrikaanse Kultuurorganisasie in die Suid-Afrikaanse Polisie.

'n Saak wat egter in die vroeë stadium van die Gilde se geskiedenis nog 'n swaar emosionele lading het, is die verhouding met die Tradisionele Boeremusiekklub. Dit is begryplik teen die agtergrond van die emosionaliteit in die debat in die laat tagtigerjare oor Boeremusiek, 'n definisie daarvoor én die bevordering van Boeremusiek in al sy vorme. Die gloed van dié debat, soms 'n twisdebat, is nog in die lug en hoëvlakvergaderinge met 'n oop gemoed aan weerskante van die spektrum nog 'n ideaal vir die toekoms.

Die punt is egter dat die Gilde van die begin af oor "samewerking" met die TBK praat, maar dat daar telkemale sterk aanduidings van moedeloosheid oor die gebrek aan 'n sinvolle verhouding na vore kom. In die verskillende streke is daar tog wel bewyse van goeie vriendskapsbande tussen TBK- en Gildelede. Dit is byvoorbeeld bekend dat daar ook toenadering van TBK-lede teenoor Gildelede is in gesprekke oor die verhouding tussen dié twee organisasies.

47-trofee.jpg (127666 bytes)

Die Boeremusiekgilde se trofees in 1994

'n Sprekende voorbeeld is Piet Bester van Pietersburg se optrede toe hy by die stigting van die Verre Noord-Transvaalstreek op 2 Maart 1990 op versoek van Willie Fourie die vergadering met 'n gebed open. Die twee here is onderskeidelik leiers in die TBK én die Gilde. 'n Ander voorbeeld is die Vrystaat. TBK- en Gildelede ondersteun mekaar se Boeredanse en leiers in die streek werk bv. in die sogenaamde Boeremusiekfeeskomitee in Bloemfontein saam ter bevordering van Boeremusiek.

Dit is bekende feite. Abie Koch, sekretaris van die Gildebestuur in die Vrystaat dien in 1995 o.m. 'n voorstel by die Gilde se Hoofbestuur in oor 'n oorkoepelende liggaam wat die TBK sowel as die Gilde akkommodeer. 'n Debat oor dieselfde tema word voor die stigting van die Gilde binne TBK-geledere gevoer. Oor dié saak kon die twee organisasies mekaar egter nog nie vind nie, vandaar nog die formele skeiding en emosionele uitlatings aan beide kante.

Die Gilde se Dagbestuur is egter bewus van sy verantwoordelikheid en probeer getrou bly aan sy grondwet.

Die Dagbestuur van 1990 gaan voort met sy werk. Die organisasie is gestig en die Boeremusiekleiers van 1990 op koers. Hulle is Ollie Viljoen (voorsitter), Nico van Rensburg (hoof uitvoerende beampte), Neels Mattheus, Theo Erasmus, Willie Fourie, ds Lourens Aucamp (FAKL Roelf Faurie (Boeredansers), Gerhardt Olckers (aanhangers BM) en Tillie du Plessis (sekretaris).

48mej-bm.jpg (90750 bytes)

Rooihuiskraal 1994; in die ry vir "Mej. Boeremusiekgilde"

Die tweede Boeremusiekfees — 10 Oktober 1990 te Silverton — verloop suksesvol. Na bewering was daar omtrent sesduisend belangstellendes by die fees. Die kategorieë waarin die orkeste meegeding het, was in die junior- en seniorafdeling. Die juniorwenner en naaswenner is onderskeidelik die Hoër Tegniese Skool John Vorster van Pretoria (ook in 1 989), én die Hoër Tegniese Skool Daniël Pienaar van Uitenhage. Die senior wenner is die Bergsig Boereorkes van Pretoria o.l.v. Dave Gilliland en die naaswenners Pierre Retief (Wes-Kaap) en Theuns Botes (O.P.).

Die beste vertolker van tradisionele Boeremusiek by die fees in 1990 is die Vrystaat Boereorkes van dr. Leon Ferreira in Bloemfontein. Hulle ontvang 'n kontantprys van Kalie de Jager.

Ander presteerders in 1990 is Neels Ackermann van Pretoria (Neels Mattheus-wisseltrofee vir konsertinaspel), Pieter Kapp van Port Elizabeth (Willie Fouriewisseltrofee vir beste instrumentalis), Dave Hughes van Port Elizabeth (Theo Erasmuswisseltrofee vir klawerbordspel), Jurie Olckers van H.T.S. John Vorster (Nico van Rensburgwisseltrofee vir belowende konsertinaspel), Clyrice Parlington van Pretoria (Boeremusieknooi), Johan en Laetitia Booysen van Pretoria (Roelf Fauriewisseltrofee vir beste danspaar). Dr. Leon Brits en sy vrou skenk later 'n trofee vir Mej. Boeremusiekgilde.

49-skoonhede.jpg (97971 bytes)

Van die skoonhede by die Mej. Boeremusiekgildekompetisie in Oktober 1994; links is die gelukkige wenner in dié jaar

Op dié dag - 10 Oktober 1990 - is daar ook nog 'n konsertinaklubopname van Corrie Nortjé en sy orkes gemaak en was die bekwame seremonie-meester Tinus de Villiers, Boeremusiekvriend en geagte SAUK-omroeper.

Gildenuusblaaie in die tyd wemel van inligting oor dié organisasie se pro-gram op nasionale- sowel as streekvlak. Dit handel oor kursusse in Boeremu-siek, die optrede van Boereorkeste, donasies en ander Boereorkeskom-petisies in die land, oor alles. Die laaste dekade van die twintigste eeu se boodskap is duidelik: Boeremusiek het opgestaan en wil sy regmatige plek in die Suid-Afrikaanse kultuurakker inneem. Dit moet wéér dien tot die versterking van die optimisme en die vestiging van 'n gesonde gees in die land.

50-mej-wenners.jpg (97358 bytes)

Wenners van die mej. Boeremusiekgildekompetisie in 1994 (links) en 1993

Hoewel die Gilde entoesiasties begin, is dit nie aldag so voorspoedig nie, veral nie in die streke nie. Dit blyk duidelik uit die verslae by die algemene jaarvergadering. So is daar aanvanklik taamlik kommer oor die Natalstreek en wissel die personeel in die verskillende streke soms te vinnig. Maar dit is deel van die groeipyne. Die Gilde verloor nie daardeur sy missie en veral sy toekomsperspektief nie. Trouens, hy identifiseer homself deur sy em-bleem wat op baadjiesakke, borsspelde, dasse, dasspelde, mansjetknopies, pette, T-hemde ensomeer pryk. Daar is nog musiek in die lewe!

Daarbenewens benadruk die Dagbestuur vroeg in 1991 dat streke Meimaand as 'n nasionale maand vir Boeremusiek moet benut. By sulke geleenthede kan orkesuitdunne ook plaasvind. Dit beklemtoon die belangrikheid van dié twee maande as besondere Boeremusiekmaande vir die Gilde — Mei en Oktober. Dit staan natuurlik ook in verband met twee belangrike openbare vakansiedae op daardie stadium in Suid-Afrika — 31 Mei (Republiekdag) en 10 Oktober (Heldedag)!

51corrie-nortje.jpg (93289 bytes)

Corrie Nortjé, in tipiese aksie, en sy orkes op Rooihuiskraal se podium in 1994

Wat 10 Oktober 1991 betref, dui die nasionale fees op die progressiewe ontwikkeling van Boeremusiek deur die Gilde. Op dié dag is daar vir die eerste keer in die kort geskiedenis van die Gilde ook 'n afdeling vir orkeste wat in die tradisionele styl met mekaar meeding. Die drie afdelings staan bekend as Junior, Tradisioneel en Ope. Dit alles geniet ook die seën van die Gilde se beskermheer, Paul Roos van SAMRO.

Natuurlik is daar in die loop van die jaar oral in die streke feeste, byvoorbeeld die groot O.P.-fees op 6 April 1991. En waar streke probleme het, ontvang hulle waar moontlik hulp van die nasionale dagbestuurslede, hoofsaaklik persoonlike besoeke en bemoediging. Aan die anderkant het streke hulle verantwoordelikhede o.m. om lede te werf, vroeg in die jaar programme te bepaal, finansiële state op te stel en dit, plus ander besonderhede, aan die Hoofkantoor in Pretoria te voorsien. Hierdie eise is noodsaaklik vir groei en ontwikkeling.

In die proses, wat die beweging van die Dagbestuurslede betref, word natuurlik aandag aan nasionale kultuurverhoudinge gegee. Nico van Rensburg woon as hoof uitvoerende beampte byvoorbeeld die tiende verjaardagfunksie van die TBK in 1991 in Irene by. Die TBK het hom baie gasvry ontvang.

Die Gilde gaan doelgerig voort en stig, soos ons weet, in Maart 1991 nog 'n streek, naamlik Suid-Kaap, met Allen Green aan die voorpunt van sake. Intussen presteer Gildelede ook mooi in die SAUK se radiokompetisie vir tradisionele Boereorkeste in 1990. Die algehele wenner in dié jaar is Pierre Retief (voorsitter W.P.-streek). Die Namakwalanders o.l.v. Willie Nelson is tweede en die derde plek word gedeel deur Tom Senekal en Gerhard Meyer, albei Gildelede.

Marius Louw en Nico van Wyk presteer as individuele musikante in dié kompetisie, ook Gildelede. Die wennerskonsert is in die bekende Sand du Plessisteater vroeg in 1991 in Bloemfontein.

Intussen verower Nico van Rensburg 'n toekenning van OKTV vir die beste tradisionele Boeremusiekmaker in 1990.

Die Gilde se derde nasionale kompetisie — 1991 — is weer in Silverton, Pretoria, hierdie keer met nog beter ondersteuning uit die streke. Die kompetisie is in drie afdelings, ook bekend as Skole, Tradisioneel en Modern. Die wenners en naaswenners in die onderskeie afdelings is Daniël Pienaar (O.P.) en die Hoërskool Westelike-Provinsie; Tom Senekal (Noord-Transvaal) en Tiny Mey (Witwatersrand); dr. Barney van Dyk (Westelike-Provinsie) en Eddie Basson (Noord-Transvaal).

52-barney.jpg (63644 bytes)

Dr. Barney van Dyk ontvang glimlaggend sy medalje van Nico van Rensburg in 1994

Die Dagbestuur van 1991 is Ollie Viljoen (voorsitter), Roelf Faurie (vise-voorsitter), Nico van Rensburg (hoof uitvoerende beampte), Christo Greyling van die O.P., Theo Erasmus, Annetjie van Rensburg en Tillie du Plessis (sekretaris). En die beoordelaars in daardie jaar: Skole/Modern: Theo Erasmus, Steph Lategan en Neels Mattheus; Tradisioneel: Gerhardt Olckers, Hannes Schoeman en Piet Bester.

Die streek wat in 1991 die Ollie Viljoenwisseltrofee ontvang, is die trotse Oostelike-Provinsie. Christo Greyling (O.P.-voorsitter) is die eerste sogenaamde "buiteperd" wat in die nasionale dagbestuur dien. By die fees word ook vir die eerste keer 'n sertifikaat van verdienste aan deelnemende musikante uitgedeel. Dié voorstel en ontwerp is van Willie Fourie.

En om kultuurbande te verbreed, besluit die Gilde ook in 1991 om in die toekoms orkesinskrywings by die Eisteddfod in Roodepoort, of waar ookal, aan te moedig. Streke kry sedertdien gereeld kennis van hierdie prestige byeenkoms en sy program.

Dit gebeur nie net by die algemene jaarvergadering nie, maar voortdurend dat die Gilde homself in alle eerlikheid evalueer. Dié vraag is voortdurend ter sprake: "Waar gaan die Gilde heen?“

Aan die begin van 1991 is die antwoord op dié vraag dat dit "goed gaan met die Gilde!" En om aan hierdie glorie groter glans te gee, beplan die Dagbestuur plaatopnames of kassetopnames van Gildelede, Gildemusikante. Dié ideaal leef veral in Nico van Rensburg se gemoed en daarom praat hy ook daaroor by vergaderinge. Dit is bedoel om Gildemusikante aan te moedig en Boeremusiek nog sterker te bemark.

Gevolglik reël die Dagbestuur in 1992 en in samewerking met kundiges in die verband vir 'n Gildekasset met opnames van twee en twintig Boereorkeste uit Gildegeledere. Dié orkeste tree op een of ander stadium van 1989 tot 1991 by die Gilde se nasionale fees in Pretoria op en hulle is: dr. Barney van Dyk, Tekkie de Ridder, Tom Senekal, Pierre Retief, Bart Cornelius, Piet Theron, H.T.S. John Vorster, Jannie Jacobs, Tiny Mey, Johan Fourie, H.T.S. Daniël Pienaar, Dave Gilliland (Bergsig Boereorkes), Faan Rousseau, Gerhard Meyer, Theuns Botes, Eddie Basson, Chris Viviers, Hoërskool Westelike-Provinsie, Alf Wiggill, dr. Leon Ferreira (Vrystaat Boereorkes), Jan Henning en Piet Botha.

53-dansers.jpg (98811 bytes)

Dansers met die Rooihuiskraalpodium op die agtergrond, Oktober 1994

Die vrystelling van dié kasset bly 'n besondere historiese gebeurtenis en was by die nasionale fees in 1992 reeds beskikbaar teen R25 stuk. Die titel van dié kasset is "Boeremusiekgilde Verskeidenheid". Die Gilde bemark voortdurend musiek, maar in dié jaar kom ook die volgende vrystellings onder die publiek se aandag: Fanie Bosch Boeremusieklegende; Hans la Grange Boeremusieklegende; Japie Laubscher Boeremusieklegende;

Tom Senekal Boereorkes; Springbok Boereorkes; Nic Potgieter (Nic is terug); Jurie Olckers en sy konsertina; "Two Sharps" van Theo Erasmus.

Van die orkeste wat deel is van die "Boeremusiekgilde Verskeidenheid" was ook in 1992 by die fees, die keer in Rooihuiskraal, Verwoerdburg. Die verskuiwing na Verwoerdburg is o.m. die vrug van die goeie verhouding tussen die Gilde en Verwoerdburg se stadsraad. Genoemde stadsraad spandeer etlike duisende om dié terrein geskik vir die fees in Oktober 1992 te kry. Die terrein is bekend en lok groot getalle ondersteuners. Die Boereorkeste van dié jaar is: Skole: Sekunda (Witwatersrand); Junior Waenhuis (Vrystaat); Rustenburg (Noord-Transvaal); W.P. Jeugorkes (Westelike-Provinsie); Tradisioneel: Chris Brits (Oostelike-Provinsie); Tom Senekal (Noord-Transvaal); Piet Snyman (Wes-Transvaal); Nico van Wyk (Westelike-Provinsie); Dons van Zyl (Witwatersrand); Waenhuis Boereorkes van Piet Wessels (Vrystaat); Modern: Eddie Basson (Noord-Transvaal); Dave Hughes (Oostelike-Provinsie); Corrie Nortjé (Witwatersrand); Basie Payne (Vrystaat); Diaan Rossouw (Westelike-Provinsie) en Alf Wiggill (Natal).

54-skare-94.jpg (147619 bytes)

Rooihuiskraal, Oktober 1994; deel van die skare by die nasionale fees van die Boeremusiekgilde

Die wenners en naaswenners is: Skole: Sekunda en Rustenburg; Tradisioneel: Dons van Zyl en Piet Snyman; Modern: Alf Wiggill en Corrie Nortjé. Die Ollie Viljoenwisseltrofee vir die beste streek is in 1992 deur Natal verower. Dit was 'n mooi geleentheid vir 'n streek wat ernstige groeipyne gehad het, 'n trotse dag vir die Natallers wat dié dag opvallend met hulle Gilde T-hempies was.

Die Gilde se dagbestuur wat in die nuwe jaar — 1992/1993 — leiding moes gee, was Ollie Viljoen (voorsitter), Roelf Faurie (vise-voorsitter), Nico van Rensburg (hoof uitvoerende beampte), Willie Fourie, Gerhardt Olckers, Christo Greyling, Theo Erasmus, Annetjie van Rensburg en Tillie du Plessis (sekretaris). Gerhardt Olckers ontvang in 1992 die besondere opdrag om aandag te gee aan die bevordering van die verhouding tussen die Gilde en die TBK. "Die idee is glad nie om saam te smelt nie, maar slegs goeie verstandhoudings te bewerkstellig. Albei organisasies het ten doel die bevordering van Boeremusiek". So word daar in November 1992 geoordeel. Minstens moet die een nie vir die ander 'n bedreiging of struikelblok wees nie. Dis die hoop wat in die gemoed van die Boeremusiekleiers leef.

Op nasionale vlak gaan die groot feeste van die Gilde egter doelgerig voort. Boeremusiek word onder alle ouderdomme en in alle streke bevorder, en veral die Oktoberfees dien as 'n sterk motivering vir die streke. Opleiding en kompetisies onder skoliere veral kry toenemende aandag. Die Westelike-Provinsie het so 'n kompetisie in 1992. Die Vrystaat weer een in 1993. Dit is op nasionale vlak en vir leerlinge onder dertien.

In Bloemfontein is daar in 1992 en 1993 in samewerking met AKPOL Boeremusiekwerkwinkels vir skoliere. En so gaan sake voort. Alle streke gee daaraan aan-dag, hoewel sukses maar moeilik is. In Transvaal en Westelike-Provinsie is daar groot aspirasies vir opleiding onder skoliere.

Die skole wat in 1993 en 1994 by die fees op Rooihuiskraal opdaag, getuig van die aandag aan Boeremusiek op skoolvlak. In 1993 is dit die Jakaranda Boereorkes, die Kemptonpark Boereorkes en die Junior Waenhuisorkes uit die Vrystaat. Die wenner en naaswenner is onderskeidelik die eersgenoemde orkeste.

55-dans-deurnag2.jpg (82923 bytes)

Deurnagdans, Sand du Plessisteater, Bloemfontein, 18 Junie 1993

Van die Vrystaat gepraat. In 1993 verower die streek die trofee vir die beste streek in die land, danksy ook die bekwame sekretariaat in die streek, beman deur Abie Koch en sy vrou Marieta. Die voorsitter van die streek is toe steeds dr. Leon Ferreira, wat die trofee met dank en trots ontvang. In 1994 is die wenner van die trofee die Westelike-Provinsiestreek. Onder die leiding van bekwame manne soos Pierre Retief en Louis Hurter het ook hierdie streek tot groot hoogtes gevorder.

Trofees en ander vorms van belonings vermenigvuldig by die Gilde en bly 'n belangrike aansporing vir musikante. In 1993 hoor ons van die Hannes van Rensburgwisseltrofee vir die belowendste instrumentalis onder skoliere, die Mannetjies Krugerwisseltrofee vir die beste tradisionele bydrae onder skoliere. Nico van Rensburg het 'n wisseltrofee vir die belowendste konsertinaspeler én vir die wenorkes onder die hoërskoolleerlinge geskenk. Johann Wessels van Steynsrus is in 1993 die belowendste konsertinaspeler.

Wat die seniororkeste betref, bied Kalie de Jager 'n wisseltrofee vir die wenner in die tradisionele afdeling aan. In 1993 is dit Koot Brits en in 1994 Nico van Wyk. Die naaswenners in dié afdeling in 1993 en 1994 is onderskeidelik Eddie Wilkinson en dan die Vrystaat Boereorkes (dr. Leon Ferreira) en Alf Wiggill. Laasgenoemde twee orkeste deel die tweedeprys in 1994. Hannes Spies bied 'n wisseltrofee aan vir die beste konsertinaspeler in die tradisionele afdeling. In 1993, byvoorbeeld, ontvang Koot Brits dié trofee.

56-koot-brits.jpg (150896 bytes) 57-flippie.jpg (146477 bytes)
Rooihuiskraal, Oktober 1994; Jan Lan-geveldt (links) ontvang vir die tweede keer die trofee vir die beste banjospeler; regs is Koot Brits Flippie van Vuuren, 'n bekende beoordelaar by Boeremusiek, by die traporrel in 1994
Opvallend van 1993 is dat drie streke orkeste in aldrie die afdelings inskryf:

Noord-Transvaal, Witwatersrand en Vrystaat. Orkeste in die seniorafdeling is Koot Brits (Witwatersrand), Vrystaat Boereorkes, Dirk Fourie (Oostelike-Provinsie), Willie Fourie (Noord-Transvaal), Pat O'Neill (Natal) en Eddie Wilkinson (Westelike-Provinsie) - almal tradisioneel; Modern: Eddie Basson en George Hughes (Noord-Transvaal), Theuns Botes (Westelike-Provinsie), Chris Brits (Oostelike-Provinsie), Kobus Fourie (Witwatersrand), Dirk Laas (Vrystaat) en Alf Wiggill (Natal). Die wenner en naaswenner is die twee orkeste van Noord-Transvaal onderskeidelik.

Ook merkwaardig van die fees op 9 Oktober 1993 is die prestasie van die drie Langeveldtbroers Gielie, Thys en Jan. Laasgenoemde twee word on-derskeidelik aangewys as die beste instrumentalis en banjospeler. Gielie is 'n bekwame tromspeler.

Die beoordelaars van 1993 is Gerhardt Olckers, Theo Erasmus, Stoffel Fritz, Flippie van Vuuren en Danie Venter. En borge: die Stadsraad van Verwoerdburg (hoofborg), SAMRO, SASOL, LEWIS STORES, HAIR CAVE, ENGEN, BEARES, CLUBVIEW GARAGE, COCONUT ISLAND RESTAURANT, LE ROUX TOERE, UITKYK SLAGHUIS, PIERRE GROBLER, OLOF BERGH BRANDEWYN.

58-gielie.jpg (102673 bytes)

Gielie Langeveldt met die tromme

Van hierdie borge het al meermale aan die Boeremusiekgilde hulp verleen. En daarvoor was daar net waardering, want so 'n groot fees kos die Gilde baie geld en sy finansies word hoofsaaklik uit ledegeld, hekgeld en die bemarking van musiek en die embleem aangevul.

Op hierdie stadium is die Gilde se embleem, naamlik die musieknoot soos deur Annetjie van Rensburg in 1990 voorgestel — en formeel aanvaar — al 'n bekende simbool van dié organisasie. Landwyd pryk dié goue en netjies afgewerkte embleem op die swart sportbaadjies van Gildelede. Dit is inderdaad die trots van die Boeremusiekgilde en beklemtoon sy ideaal om as 'n goed gestruktureerde musiekorganisasie die beste belangstelling te trek en Boeremusiek op te gradeer.

Terwyl by 1993. Die Hoofbestuur en Dagbestuur word by die algemene jaarvergadering op Vrydag, 8 Oktober, so gestruktureer dat die Gilde vir die eerste maal die amp van ere-president instel. Die eerste Gildelid wat hierdie eer te beurt val, is Ollie Viljoen, die nasionale voorsitter sedert stigting in 1989. Gerhardt Olckers word nasionale voorsitter in sy plek met Willie Fourie die vise-voorsitter. Die res van die bestuur is Nico van Rensburg (hoof uitvoerende beampte), Tillie du Plessis (sekretaris), Roelf Faurie, ds. Lourens Aucamp (FAK), Theo Erasmus en dr. Leon Ferreira, die laasgenoemde twee onderskeidelik as lewenslange lid en aanhanger van Boeremusiek.

Die bogenoemde vergadering besluit ook op 'n nuwe afdeling in die nasionale orkeskompetisie, naamlik vir laerskoolorkeste. Dit betrek skoliere onder veertien jaar en is 'n groot stap vorentoe in die bevordering van Boeremusiek onder skoliere.

Op daardie stadium was die volgende streke by die Gilde ingeskakel: Natal, Noord-Transvaal, Oostelike-Provinsie, Suid-Kaap, Verre Noord-Transvaal, Vrystaat, Westelike-Provinsie en Witwatersrand.

Laasgenoemde het toe die meeste lede gehad, terwyl Suid-Kaap met sy vyftien lede, 'n saak van kommer was. Dieselfde geld Verre Noord-Transvaal.

Dit is reeds bekend dat die Suid-Kaap daarna by die Oostelike-Provinsie in-geskakel is en dat die Verre-Noordstreek, Noord-Transvaal geword het en Pretoria deel van die Witwatersrand. In die lig van die kleinerige ledetal in sommige streke én die geografiese uitgestrektheid daarvan is die bepaling vir 'n kworum by jaarvergaderinge ook in 1993 aangepas. By die jaarvergadering van 'n streek is tien lede of 'n derde van die ledetal, 'n kworum, afhangende van watter die kleinste is. By 'n algemene jaarvergadering is dit twintig lede. Om die organisasie nog meer vaartbelyn te maak, word met "lede" enige lid van die Boere-musiekgilde wie se ledegeld tot op datum betaal is, bedoel.

1993 staan in ieder geval die teken van herstrukturering op administratiewe vlak. Streke ontvang gevolglik 'n redelik lywige dokument oor administratiewe aanpassings in die Gilde, waarby die streke uiteraard moes inval. 'n Jaarblad vir elke lid na die nasionale fees in Oktober word ook beplan.

Ook die feesjaar —  1994 — staan in die teken van groei en ontwikkeling en getuig van 'n organisasie wat toenemend rigting in die musiekwêreld vind. Dit geld nie soseer die doel van die Gilde nie, eerder die praktyk soos dit ook in die streke blyk te wees. Ongelukkig het die land se verswakkende ekonomie ook sy effek. Daarteenoor vind die Gilde dit ook belangrik om voortdurend introspeksie te hou, met 'n oop gemoed strategies te beplan en 'n sterker kultuurbewussyn te kweek.

Strategiese beplanningsgesprekke en vergaderinge is sedert 1993 hoog op die sakelys van die streke en veral die nasionale dagbestuur en hoofbestuur. Dit geld ook krities-waarderende beskouinge oor die nasionale fees in die lente van elke jaar. Dié fees sou in ieder geval weens die nuwe openbare vakansiedae van die nuwe landsregering na Septembermaand vervroeg moes word. Dit gebeur egter eers in 1995.

59-lydenb-orrels.jpg (137568 bytes)

Nico van Rensburg se orkes op Lydenburg in 1994 met die manne by die traporrel: Sewes van Wyk, Flippie van Vuuren, Sollie Marais en Ollie Viljoen; Willie Fourie kyk glimlaggend toe.

Die nasionale fees is gevolglik in 1994 vir oulaas op 10 Oktober, die laaste openbare vakansiedag bekend as Heldedag. Die terrein is weer Rooihuiskraal in Verwoerdburg.

Ook dié dag is 'n historiese dag omdat 'n vierde afdeling in die groot nasionale orkeskompetisie bykom, naamlik 'n afdeling vir laerskole. Voorbereidingswerk in dié verband is reeds in Kaapstad en Bloemfontein gedoen toe nasionale kompetisies in laerskole in die loop van 1992 en 1993 gereël is.

Die laerskole wat in 1994 in Rooihuiskraal met mekaar meeding, is Thabazimbi (Noord-Transvaal) en Sasolburg (Vaaldriehoek). Die wenner was die Thabazimbi Laerskool en het die eerste wisseltrofee vir dié afdeling ontvang. Dit is die dr. Leon Ferreirawisseltrofee.

Vaaldriehoek is toe een van die jong streke binne die Gilde.

Noord-Transvaal is intussen nuut afgebaken en sluit die Verre Noord-Transvaal in. Pretoria is toe deel van Witwatersrand. Die ander streek wat bygekom het, is Noordwes-Transvaal met Louisa Schutte as voorsitter. Die streke by die algemene jaarvergadering te Rooihuiskraal op 9 Oktober 1994 is dus die volgende: Natal, Noord-Wes, Noord-Transvaal, Oostelike-Provinsie, Vaaldriehoek, Vrystaat, Westelike-Provinsie en Witwatersrand. Die Oos-Transvaalstreek sou eers na die Oktoberfees van 1994 gestig word. Dit is op 26 Mei 1995 in die Esterliete skoolsaal in Lydenburg gestig. Die aanloop daartoe is 'n baie suksesvolle traporrelfees te Lydenburg op 20 Augustus 1994. Dit is 'n Hoofkantoorfunksie waar verskeie van die land se beste klawerspelers soos Theo Erasmus, Flippie van Vuuren, Sollie Marais, Ollie Viljoen en Paul Ferns opgetree het. Nico van Rensburg se orkes speel ook.

60-orrelspelers.jpg (110443 bytes)

Nico van Rensburg en lede van sy orkes, wat 'n groot bydrae maak ter bevordering van Boeremusiek, en orrelspelers saam met die burgemeester van Lydenburg in 1994

Die Rooihuiskraalfees is van Saterdag, 8 Oktober 1994 tot Maandag, 10 Oktober 1994 toe die verskillende kompetisies plaasgevind het. Op die Saterdag vind 'n strategiese beplanningsvergadering plaas, op Sondag 'n erediens op die terrein en die algemene jaarvergadering en Maandag trek die musikante met konsertina's en kitare vir die groot kragmeting op.

Die beoordelaars was Gerhardt Olckers, Theo Erasmus, Tiny Mey, dr. Barney van Dyk en Danie Venter. Die seremoniemeester die keer is Ollie Viljoen. Seremoniemeesters van die vorige jare was Piet Stanton en Paul Jordaan.

In die hoërskoolafdeling is dit Vanderbijlpark (Vaaldriehoek), Junior Waenhuis (Vrystaat), Westelike-Provinsie (W.P.) en Kemptonpark (Witwatersrand); Tradisioneel: Alf Wiggill (Natal), Tom Senekal (Noord-Tvl), Johan Fourie (O.P.), Jan Botes (Vaaldriehoek), Vrystaat Boereorkes, Nico van Wyk (W.P.) en Pat Malony (Witwatersrand). Die moderne manne was Danie Lotz, Jannie Nel (Noord-Tvl), Dave Hughes (O.P.) Sonop Boereorkes (Vaal-driehoek), Eddie Wilkinson (W.P.) en Corrie Nortjé (Witwatersrand). Vanderbijlpark wen die skole-afdeling en Nico van Wyk die tradisionele afdeling.

61-mooi-orrels.jpg (54280 bytes)

Van die mooi traporrels by Lydenburg in 1994

Dit was weer eens 'n besondere feesnaweek met Corrie Nortjé se orkes weer op die wenpad in die moderne afdeling. By die geleentheid is nog 'n kasset vrygestel met die Gilde se wenorkeste van 1992 en 1993 daarop en met die titel "Boeremusiekgilde Vyf Goue Gildejare".

Dit is duidelik dat die aspirasies van die Gilde al hoe hoër klim want na die algemene jaarvergadering in 1994 word toenemend oor 'n eie uitsaailisensie gepraat. Weens die hoë koste daaraan verbonde, word die saak vir eers daar gelaat. Met strategiese beplanning op die program, die morele steun van streke, 'n Feesblad oor die eerste vyf jaar, die bemarking van Gildeorkeste se musiekproduksies én die bemarking van Boeremusiek deur radio en TV, is die Dagbestuur van 1994 en 1 995 goed onder die indruk van sy verantwoordelikheid.

Die Dagbestuur in 1994 is Ollie Viljoen (ere-president), Gerhardt Olckers (nasionale voorsitter), Willie Fourie (vise-voorsitter), Nico van Rensburg (hoof uitvoerende beampte), Tillie du Plessis (sekretaris), Pierre Retiet, dr. Leon Ferreira, Roelf Faurie, ds. Lourens Aucamp (FAK), Abie Koch en Kalie de Jager. 'n Verdere verwikkeling is dat Gildestreke aan individuele Dagbestuurslede vir aandag en motivering opgedra word.

Die goudkleurige embleem van die Gilde skitter weer eens in die Oktoberson. Die nuwe musiekkasset het 'n goue omslag en die medaljes wat met die nasionale fees uitgedeel word, ook goudkleurig. En dit alles getuig van trots en dankbaarheid oor vyf goeie jare, goue jare, op die pad van die Boeremusiekgilde.

Nuwe Boeremusiekstreke word oorweeg, waarvan Namibië 'n voorbeeld is. Die belangstelling van anderskleuriges in Boeremusiek kry ook aandag. Boeremusiekproduksies vermeerder en radio en TV dra die klanke daarvan voort. In Oktober 1994 is baie manne se kassette en CD's op die mark:

Mynie Reyes; Theo Erasmus met Koot Brits; dr. Barney van Dyk; Ricardo Bornman; 1994 TV-kompetisie; Vrystaat Boereorkes; Nico van Rensburg (Biltong en Braaivleis, asook tradisioneel); Saamtrek Boereorkes; Ollie Viljoen (TV-treffers); Eddie Basson (1994 TV-wenner); Kemptonpark Juniors; Marius Louw en Nico van Wyk.

Die stroom van musiekproduksies uit die Boereorkeste betrokke by die Boeremusiekgilde is nimmereindigend — inderdaad 'n saak vir dankbaarheid en blydskap.

Dit alles skep nuwe verwagtinge wat die groei van Boeremusiek in die toekoms betref.

62-beoordelaars.jpg (81028 bytes)

Die beoordelaars by die nasionale kompetisie op 10 Oktober 1994: Tiny Mey, dr. Barney van Dyk, Danie Venter, Theo Erasmus, Gerhardt Olckers