Tuisblad

Inhoudsopgawe Voorwoord Groeteboodskappe Aanloop Stigting
  Groei Toekomsperspektief Fotobeeld Bylae  

 

Streke

Oostelike Provinsie

Westelike Provinsie Wits Noord-Tvl Natal
Vrystaat Wes-Transvaal Verre Noord Tvl Suid-Kaap Vaaldriehoek

 

3.1 Oostelike Provinsie

Hierdie streek stig sy allesomvattende Boeremusiekorganisasie in Julie 1987 by 'n groot vergadering van vriende in Port Elizabeth. Na bewering was daar omtrent dertig aanwesiges, waarvan die grootste deel musikante was, en was die stigterslede entoesiasties oor die bevordering van Boeremusiek.

Die name van die eerste bestuur in die O.P. is bekend in die Boeremusiekwêreld: Neels Mattheus (voorsitter), Gideon du Toit (vise-voorsitter) en Piet Theron (skriba). Bestuurslede wat sedertdien bygekom het en 'n groot bydrae tot die bevordering van Boeremusiek in die O.P. gemaak het, is Judy Geldenhuys, Christo Greyling, Tekkie de Ridder, Gielie Badenhorst en Theuns Botes. Judy, as sekretaris, is bekend vir haar inspirerende omsendbriewe.

Neels Mattheus en Christo Greyling was op 'n stadium lid van die Boeremusiekgilde se Hoofbestuur én Dagbestuur. Die O.P.-bestuur in die feesjaar — 1994 — is Bennie Stoltz (voorsitter), Frans Joubert (vise-voorsitter), Willie Stoltz (skriba) en Arnold Olbe. Na die ernstige siekte van Neels Mattheus in die vroeë negentigs, was Christo Greyling 'n ruk lank in sy plek die voorsitter van die streek.

Die kantooradres van die streek is President Reitzstraat 33, Despatch 6220 en die naam van die nuusbrief "Gildegedoentes", waarin 'n magdom van inligting oor dié streek verskyn.

11-op-orkes.jpg (83774 bytes)

Rooihuiskraal, Oktober 1994; Tekkie de Ridder (tweede van regs) en sy Boereorkes van die O.P.-streek

Gildefunksies in dié streek is hoofsaaklik in die aangewese lokale van ont-spanningsklubs en hotelle gereël, terwyl musikante almal saamgestaan het om 'n bydrae tot die orkesmusiek te maak. Geen spesifieke orkes het noodwendig voorkeur ontvang nie. Die ondersteuning by sulke funksies en danse word aangedui as gemiddeld, terwyl die deelname van jongmense ongelukkig 'n uitsondering was.

Nog 'n hartseer verhaal in die O.P. is die swak ondersteuning van kultuuror-ganisasies aan die Boeremusiekgilde. Die TBK, Vroueverenigings, die FAK, borge, skole, Rapportryers is blykbaar nie betrokke by die Boeremusiekgilde se poging om 'n stuk kultuurerfenis, soos Boeremusiek, in die O.P. te help ontwikkel en bevorder nie. Daarteenoor is die Gilde in dié gebied ook nie gretig om van sy kant by ander kultuurorganisasies betrokke te raak nie. Tot in 1994 word so-iets nie eens beoog nie. Miskien gebeur dit in die toekoms na die stewiger vestiging van Boeremusiek.

Een saak staan egter uit. Die Boeremusiekgilde in die O.P. strewe van die begin af in beginsel én praktyk na die bevordering van Boeremusiek. Sy groot Boeremusiekfeeste in die vroeë negentigs is byvoorbeeld landwyd bekend. Boereorkeste van heinde en verre neem daaraan deel en die ondersteuning van die plaaslike vriende is in groot getalle.

Hoewel sulke groot funksies administratief veeleisend is en nie noodwendig winsgewend nie, is dit in ieder geval altyd 'n wins vir Boeremusiek.

12-retief-nico-wp.jpg (99811 bytes)

Pierre Retief as die afrigter van sy skoolorkes uit die Wes-Kaap ontvang 'n trofee op 10 Oktober 1994; Nico van Rensburg (regs) skud sy blad.

Oor die algemeen ontwikkel Boeremusiek in der mate dat die O.P. twee keer na mekaar (1990/1991) by die Gilde se nasionale fees in Pretoria die Ollie Viljoen wisseltrofee vir die beste streek in die land ontvang. Dit is 'n mondvol en 'n groot eer vir die O.P. Die ander streke daarna is Natal, die Vrystaat en die Westelike-Provinsie.

Van verdere belang is die desentralisasie van Boeremusiek in die O.P. Sedert nasionale stigting in 1989 verdeel die O.P. in drie substreke vir Boeremusiek: Port Elizabeth, Despatch en Uitenhage. Die streke het afsonderlike besture onder die koördinering en beheer van 'n oorkoepelende bestuur.

Die O.P. is geseënd met goeie en bekende musikante en Boereorkeste en dit belowe gevolglik 'n goeie toekoms vir Boeremusiek. Neels Matteus, Theuns Botes, Piet Theron, Hansie Loggenberg, Tekkie de Ridder, Neville Ferreira — om 'n paar te noem — is almal bekende musikante in die Baai.

Hierdie publikasie kan ongelukkig nie reg aan almal laat geskied nie. In die Boeremusiekgilde gaan dit egter nie om persoonlike aansien en erkenning nie, maar om 'n groter saak. Die annale van die Gilde bevat egter genoeg besonderhede om in die toekoms 'n dik boek te skryf. In dié verhaal gaan dit om die hoofmomente.