Toekomsperspektief

Tuisblad

Inhoudsopgawe Voorwoord Groeteboodskappe Aanloop Stigting
  Streke Bylae Groei Fotobeeld  

 

Toekomsperspektief

Vir 'n toekomsperspektief is dit belangrik om ook terug te kyk. Dit is altyd 'n bate om te kan terugkyk, want wie dit doen, weet waarvandaan hy kom, wat sy lewensomstandighede geskep het, verstaan die hede beter en het 'n skerper uitsig op die toekoms. Die verlede bepaal meermale ons geloof, of ongeloof, in die toekoms.

En wat die Boeremusiekgilde betref, kan hy terugkyk op sy eie interessante en belowende geskiedenis, maar ook die geskiedenis van Boeremusiek oor die algemeen. By al die ander mededelinge vertel die Boermusiekvriend, Tinus Esterhuizen van die SAUK in Johannesburg, ook van die radio en TV se bydraes in die verlede met betrekking tot die bemarking van Boeremusiek.

63-thinus.jpg (56360 bytes)

Tinus Esterhuizen, sekretaris: Konsertinaklub en T.B.O.K

Tinus self het in die meer resente tyd 'n reuse aandeel in die bevordering van dié saak, veral in sy hoedanigheid as sekretaris van die twee radioprogramme "Konsertinaklub" en die "Tradisionele Boereorkeskompetisie". Soos reeds genoem, was Boeremusiekplate oor die radio vroeërjare baie algemeen en gewild. Bekende orkeste soos dié van Freddie Fischer, Hansie van Loggerenberg, Arnout Malherbe, Hansie Gouws, Duffy Ravenscroft, Nico Carstens, Piet van Wyk, Neels Steyn, Nico Langeveldt, Japie Laubscher, Willie Fourie, Jurie Ferreira, Piet van Wyk, Leon Venter, Danie van Loggerenberg en Tiny van Loggerenberg — en nog ander — het gereelde bydraes gemaak.

Programme waarin Boeremusiek 'n prominente rol gespeel het, was volop, programme soos "Bloumaandag" en die "Mielieblaarklub". Daar is in resente tyd ander radioprogramme wat dié musiek voortsit, waarin Boeremusiekvriende soos Tinus de Villies, Johannes van der Walt, ds. Lourens Aucamp, Martin Jansen en talle ander optree. En dan praat ons nie eers van die verskillende streekradiodienste in die land nie.

"Konsertinaklub", byvoorbeeld, kom al van 1977. Radiouitsendings is oor die afgelope twee dekades in talle ateljees en in ander plekke voorberei. Dié "Klub" is op 21 Maart 1977 te Pietersburg gestig. Die eerste voorsitter was Piet Bester en sekretaris ds. Lourens Aucamp. Vandag kan ons terugkyk op omtrent nege honderd uitsendings van "Konsertinaklub".

Boeremusiek bied dus 'n groot verhaal wat vanselfsprekend nie in hierdie storie oor die Boeremusiekgilde tot sy reg kan kom nie. Dit is natuurlik ook nie die bedoeling nie. Maar wat wel belangrik is, is dat ons kennis moet neem van die breë Boeremusiekwêreld en van die invloed van Boeremusiek én Boeremusikante uit die verlede op die Gilde.

Die Gilde is juis geïnisieer én gestig deur Boeremusiekvriende wat sommige van die ou Boeremusiekhelde persoonlik geken het, én wat self deel uitmaak van Boeremusiek se geskiedenis tot op hede. Die Gilde neem wel deeglik kennis van die breë Boeremusiekwêreld — sy ontstaan, sy glorieryke dae, sy wankelende dae én sy potensiaal om sterker as ooit voort te leef.

Dit is juis Boeremusiek se goeie verlede wat die hoop laat opvlam op 'n goeie toekoms. Insinking op hierdie kulturele vlak sedert die sestigerjare moet onder meer ook toegeskryf word aan die gebrek aan waaksaamheid by die kultuurdraer oor sy eie geestesgoedere. Oorgerustheid by die Afrikaner tydens 'n politieke bedeling wat die nodige kultuurbeskerming verleen het, kan aangeteken word as 'n rede vir die kultuurinsinking op meer as een gebied.

Terugslae ten spyt gaan die Boeremusiekgilde voort op sy pad. Die Gilde behou die geloof in sy missie, sy ideaal om dié musiek — Boeremusiek —  in al sy vorme te bevorder. Dit bly deel van sy toekomsplan sonder die minste oorweging om enige faset daarvan te verwaarloos. En juis omdat hy nie van Boeremusiek se verlede kan loskom nie, of los wil wees nie, sal Boeremusiek in sy tradisionele styl altyd die hoogste respek geniet.

Trouens, die liefde vir die twee besondere aksente by die Gilde in Boeremusiek, nl. die vertroeteling van die tradisionele en daarnaas die benutting van 'n meer resente of moderne benadering, is 'n gevestigde liefde. Die punt is: Boeremusiekmakers is lief vir Boeremusiek en Boeremusiek sal dit bly. Dit is die wet van die Meders en Perse in Boeremusiekkompetisies. Dit is ingegraveer in die harte van diegene wat dit produseer, wat musiek skep én as leerkragte optree: die eintresultaat moet Boeremusiek wees!

Boeremusiek is uniek. Dit het 'n klank van sy eie en die musiekmaker respek-teer dit. Afwykings in dié verband geniet nie blywende steun onder Boeremusiekvriende nie en is nie verseker van 'n toekoms nie, miskien binne 'n ander musiekkategorie, maar nie in die Boeremusiekwêreld nie.

Die feit dat die jeug in 'n toenemende mate met Boeremusiek kennis maak, selfs gekonfronteer word, en in verskeie dele van die land al opleiding kan ontvang, maak die toekoms belowend. Vir die Gilde voorspel dit ook iets goeds. Jeugorkeste is alreeds binne dié organisasie gevestig.

Musiekinstrumente is ook makliker bekombaar, hoewel soms duur. Die feit is egter dat die konsertina, wat op 'n stadium feitlik onbekombaar was, deesdae selfs in Suid-Afrika geproduseer word. Die "Wheatstone" as 'n konsertina uit Brittanje, Londen, het vandag groot kompetisie van Suid-Afrikaanse produsente. Die "Wifra" (van Willie van Wyk), die "Havir' (van Hannes Viljoen), en die "Olga" (van Pierre Gerber) is al bekende name onder konsertinaspelers. Instrumente is oral verkrygbaar en natuurlik goeie klanksisteme.

Daarbenewens is klankproduksies reeds in 'n gevorderde stadium van ontwikkeling en kom Boeremusiek vrylik deur middel van kasette en laserskywe op die mark. Hoewel radio- en TV-bemarking in die jongste tyd bevraagteken word, is sommige opkomende privaatsenders entoesiastiese bemarkers van Boeremusiek.  Die moontlikheid van privaat TV-kanaal is ‘n uitgesproke ideaal in meer as een Afrikanerkultuurkring.

64-willie-fourie.jpg (73745 bytes) Die nuwe politieke bedeling skep nuwe uitdagings en plaas bepaald nuwe kultuurbesinning en praktiese beplanning op die tafel. Dit geld uiteraard ook die bevordering van Boeremusiek.

Wat die Gilde in die besonder betref, is die organisasie vroeg in sy bestaan al met strategiese beplanning besig en daarin word met 'n oop gemoed na alle fasette van die Gilde se bestaan gekyk: nasionale feeste en die beste vorm van diens aan Boeremusiek; administratiewe sake; finansies; 'n be-markingstrategie; die opgradering van Boeremusiek en kultuurbande in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Willie Fourie speel ‘n besondere konsertina wat Willie van Wyk gebou het.
Die hoop en verwagting is dat die Afrikaner veral 'n nuwe waardering vir sy volksbesit moet ontwikkel en dat ons jeug ons eie musiek sal geniet soos in vroeë jare toe jongmense graag hulle eie liedjies gesing het, hulle eie musiek gemaak het en gevolglik op hierdie gebied miskien meer kreatief was as die nuwere geslag. Vandag luister mense graag, maar hulle maak en skep nie meer musiek nie.

Die Gilde is nie ingestel op weerstand teen ander musiek nie, maar kom met die boodskap dat Boeremusiek ook deel van die Suid-Afrikaanse samelewing is en dat dit deur sy gesellige klank 'n goeie gesindheid oor verskillende grense heen kan kweek. Dit besit die potensiaal om juis vanweë sy unieke klank 'n gemoedelike gees in Suid-Afrika te promoveer. In die breedste sin van die woord is die Boeremusiekgilde — as 'n bemarker van populêre musiek — saam met sovele ander musiekorganisasies die bouer aan 'n gesonde gees in die Suid-Afrikaanse samelewing.

Ten slotte, bly dit steeds die Gilde se ideaal, en dit bekragtig hy deur sy gebede, om ook deur sy optrede sy dankbaarheid teenoor die Here, die Gewer van die talente, te bevestig.